• kantoor@gkbrackenhof.org.za
  • +27 83 444 1988

GK Brackenhof se Beertjie Projek

Beertjies vir minder-bevoorregte kindertjies

Die doel van die projek is om beertjies aan kindertjies te gee wat in nood is (siek kinders in hospitale, liggaamlik of verstandelik gestremde kinders in spesiale skole, kinders in kinderhuise) en om daarmee die boodskap van God se liefde aan hulle te bring. Ook ons oumense in bejaarde tehuise en inrigtings word nie oor die hoof gesien nie.

In 1997 is ’n “onskuldige versoek” gerig. “Wil julle bejaardes van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Oos, nie miskien vir ons 60 beertjies brei wat ons aan kinders-in-nood wil skenk nie?

Van toe af is daar nie meer opgehou met brei nie.

In 2009 gaan die projek saam met Joukje Geertsema na Gereformeerde Kerk Worcester en daarvandaan het sy die projek na die gemeente gebring. In 2016 skop die projek behoorlik hier by ons af en in die eerste jaar word daar meer as 1000 beertjies gebrei. Tot op hede is daar reeds meer as 2500 beertjies gebrei en versprei.

En nog steeds word daar gebrei, vasgewerk, snoetjies gemaak en gestop, ogies opgeplak, lintjies gestrik en kaartjies met ʼn boodskap vasgewerk. Enigeen wat lus is om te help is welkom om dit te doen. Daar is selfs mense buite ons gemeente wat help brei. Donasies word meestal van ons eie lidmate ontvang.

Oorskietwolle word ook nie gemors nie en in 2019 het ons 155 seekatte daarmee gemaak wat ook aan ʼn hospitaal se kindersaal geskenk is.

Iemand vra ons nou die dag, “Hoe lank neem dit om ’n beertjie te maak?”

Ja, as mens dit in man-ure sou omsit, sou dit baie goedkoper gewees het om net ’n beertjie te gaan koop en te skenk. Dis die maklike manier. Maar nou word daar met elke steek wat in liefde gebrei of vasgewerk word, met deernis aan die ontvanger van daardie spesifieke beertjie gedink. En baie van die beertjies gaan deur baie hande voordat hulle kant en klaar is.

Daar is ook baie agter-die-skerm-hande – waarvan die belangrikste die biddende hande is.

Die projek hier word gekoördineer deur Joukje Geertsema en Carla Blauw.

Kontak gerus die kerkkantoor vir meer inligting