Die Kairos kursus is vir die eerste keer in Boksburg korrektiewe sentrum aangebied. Die span (ongeveer 30 mense) het in die saal van St Andrews’ Presbiteriaanse kerk geslaap. Die dames het ook die kos vir die kursus in St Andrews se kombuis gemaak.
Die kursus was ‘n groot verrassing vir die deelnemers (gevangenes) en vir die personeel by die tronk. Die deelnemers wat die tronk op die kursus gestuur het, was meestal moeilikheidmakers en party was baie skepties oor die kursus. Namate die naweek gevorder het, het selfs die mees skeptiese deelnemers ontspan en ywerig deelgeneem aan besprekings.
Die uitreik in liefde en onvoorwaardelike aanvaarding vanaf die span het baie goed gewerk. Die feit dat Christene van baie kerke soveel vir hulle omgee dat hulle vir hul etes en koekies gee en vir hulle bid, het al die deelnemers diep getref.
Al die praatjies, oordenkings en besprekings van die kursus skakel aanmekaar om die boodskap van die evangelie ‘n werklikheid te maak . Almal teenwoordig het tussendeur heerlik saamgesing.
Met die afsluitingseremonie, Sondag-oggend kon die deelnemners wat wou, vir almal vertel wat hulle geleer en ervaar het. Dit was wonderlik om te hoor hoe God mense se lewens verander. Die tronk se godsdiens-offisier het ‘n toespraak gehou waarin sy gesê het dat die gevangenes wat sy by die kursus sien, moeilikes is. Sy was verbaas om te hoor dat hulle bereid is om Jesus se naam te noem. Sy het die span baie bedank en verseker dat ons meer as welkom is om weer ‘n kursus daar aan te bied.
Die span gaan een Saterdag per maand terug om al die kursusgangers weer bymekaar te kry vir Bybelstudie, saamsing en om hulle toe te rus om hul eie Bybelstudiegroepe te stig en aan die gang te hou.
Baie dankie vir almal se hulp om hierdie uitreik moontlik te maak met koekies, etekaartjies en voorbidding. Op hierdie manier is elkeen van u ook betrokke by hierdie belangrike bediening.
Hier is ‘n klankopname van ‘n deelnemer se getuienis en ook van sang tydens die naweek, net om ‘n idiee te gee van wat daar gebeur het.