Het jy al ‘n dopperdas gesien? Nou waar op aarde sien jy dit, mag jy vra. En moenie praat van die pragtige wit gestyfde krae en kosbare borsspelde nie. Het jy al ooit sulke swart blinkleer skoene gesien? Beslis nie in ons gemeente nie.
Dit was nou die dag ons voorreg om ‘n besoek aan ons buurgemeente te bring. Dit het gesous en ons moes dit deur plasse en reënvlae waag. Ook nog koud en onplesierig, maar Heinrich het onderneem om sy maandelikse preek in Katlehong te gaan hou. Nadat ek minstens 20 jaar gelede laas in Katlehong was, was die verrassing groot. Kerkraad in die konsistorie. Alles netjies genotuleer van besoekers tot teksverse. Toe kerk in. Nog ‘n verrassing. Nuwe dak, moderne kleurskema, wit preekstoel, pragtig oorgetrekte stoele vir die kerkraad. Voor op ‘n tafel drie bakkies vir kollekte wat elke lidmaat persoonlik vorentoe bring. Eenduisend Rand ingesamel. Dis net groen blare waar jy kyk.
Intussen word ‘n lied aangehef op ritme van ‘n leersakkie. Daarby kom ‘n selfgemaakte klokkie en nog meer tuisgemaakte begeleiding. Na ‘n rukkie moet die ouderlinge nog stoele indra, want dit reën en almal kan nie vroeg daar wees nie. Terwyl daar gesing word, stap die dames in, hulle sit in die middel. Die manne aan die ander kant. Hulle is nie daaroor gepla nie. Kulturele verskille maak ons interessant. Dit was doppers.
Wat nou van die dasse? Pragtig, elke broeder in deftige swart pak met ‘n grys gestreepte das, nogal blinkerig. Die susters met hulle wit krae en swart rompe. Ek het my verkyk en toe verluister. Enige suster begin met ‘n lied wat van begin tot end uitgesing word.