Kerkkamp 2022

Ons kerkkamp het die naweek van Vrydag 25 tot Sondag 27 Maart 2022 plaasgevind by Bosveld Oase in Brits.

Baie baie dankie aan Brenda en Peet van Zyl

Die naweek van 25 tot 27 Maart het ‘n groep van 30 van ons gemeentelede ‘n kerkkamp gehou by die Bosveld Oase buite Brits. Te midde van heerlike reënbuie Vrydag- en Saterdagaand het ons die geleentheid vir samesyn behoorlik geniet. 

Ons kamp-kommandante, Peet en Brenda van Zyl, het ons laat deelneem aan verskeie aktiwiteite soos Bybelvasvrae, mimiek idiome en selfs ‘n mini Olimpiese spele waaraan almal van ons deelgeneem het. Die vier evangelie-spanne het mekaar opdraende gegee en die wenners van die naweek se aktiwiteite was die ‘Johannes’-span.

Baie baie dankie aan Sarnell en Danie de Beer

Dankie aan almal wat deelgeneem het, saamgewerk en saamgespeel het! Groot dank aan almal wat ons fondsinsameling ondersteun het en spesiale dank aan al ons BORGE wat gehelp het om die naweek moontlik te maak. Na ‘n paar jaar van ‘isolasie’ en ‘droogte’ kon ons wegbreek en weer met nuwe energie mekaar waardeer. Sondag het ds Paul Nel vir ons afgesluit met ‘n erediens en besef ons weereens hoe GESEËND ons werklik is!  Ons hoop om die 2023 gemeentekamp te hou in die eerste kwartaal van die jaar en hoop om baie meer gemeentelede daar te sien! Sarnell de Beer

Vrydagaand se Bybelvasvra

Jy dink jy ken die Bybel redelik goed totdat jy snelvuurvrae moet beantwoord. Ten spyte daarvan dat die Johannes-span een man kort was, is hulle as die oorweldigende wenners aangewys! Baie geluk! En dankie tog vir Rina, ons kampioen!

Vrydagaand se worsrolle maak

Worsrolle

Party KYK, en party ? WEL, hulle KYK en PRAAT!

IMG-20220327-WA0006

Saterdag se “brunch” 

Party het lank genoeg bly lê, totdat hulle koffie in die bed gekry het. Maar groot dankie aan almal wat dwarsdeur die naweek gesorg het dat niemand honger ly nie.

Gegapste karamel het nog nooit so lekker geproe nie!

Saterdag se Olimpiade

Gelukkig het ons ons eie mediese spandokters gehad wat verrekte spiere, verstuite enkels en ‘n seer rug kon behandel.  En die SKREE-span het ALMAL aangemoedig, of die spies nou binne of buite die baan beland het. Want die meestes van ons het laas op skool nog gewiggestoot, spiesgegooi en werpskyf gedoen. En dan praat ons nie eers van kettieskiet nie. Alle eer aan die enigste dame wat darem die middelblik kon raakskiet onder die bekwame leiding van die Johannes-span afrigter. 

En wie het al ooit Pétanque gespeel? En ons wenner het net aanhou en aanhou en aanhou speel totdat sy gewen het.

Spiesgooi … dit alles lê in die gewrig!

Gewigstoot … en wie probeer met twee gewigte tegelykertyd stoot? En die KYK, is baie belangrik!

 

Werpskyf met papierborde is deur die “wind” in die wiele gery, want wie wil agtertoe in plaas van vorentoe  boer? Frisby met plastiekborde werk beter, veral as die bome kan saamspeel.

Pétanque. Wie het nou ooit gedink dat ‘n klomp boertjies hierdie Franse spel sal kan speel? Al het ons ook ons eie styl en reëls ontwikkel. 

Kettieskiet. Wow, wie het verwag dat die manne die een teiken na die ander sou raakskiet? Die dames was in verwondering! Gelukkig het elke spanafrigter die skonergeslag touwys gemaak.

Saterdagmiddag

Asof die Olimpiade nie al genoeg oefening was nie, het party nog meer fisiese aktiwiteite gaan opsoek, terwyl die groter meerderheid in die verhitte swembad gaan rondhang het. ‘n Mens moet ‘n tafel kan bekruip vir hierdie speletjies. En ons tafeltenniskampioen 2022 het meer oefening ingekry deur agter almal se pingpongballetjie grondlangs te kruip as deur die speel.

Saterdag se Idiome Stomstreke

Jy ken die idioom, maar hoe gaan jy dit mimiek?  En toe kom ons agter dat Dawid nie net van wortels weet nie, maar ook ‘n uitstekende KAT is.

En geluk aan ons Matteus-,  Markus-, en Lukas-spanne wat net-net as wenners uit die stryd getree het met drie punte elk teenoor die Johannes-span se twee punte. Ja, né! Dit kos drie spanne om ons te wen!

En ons WENNERS, is … Party het gewens hulle was naaswenners i.p.v. wenners, want dan kon hul ‘n proeseltjie gekry het!

Nabetragting

Met ‘n heerlike Brackenhof Kamp 2022 pas agter die blad, net ‘n gedagte of twee:

Natuurlik is elkeen wat daar was, seker dat dit ‘n heerlike naweek en ‘n verreikende deel van hulle lewe was: vra hulle gerus maar self. Na die vreemde wêreld wat ons saam met die Covid-19 pandemie inbeweeg het, was dit regtig bevrydend om mekaar se gesigte weer te kon sien en beleef – sonder ‘n masker!

Dink gerus ook hieraan: sonder om spreekwoordelik ‘skouers te skuur’ met my broer en suster in Christus, is dit nie moontlik om te groei in gemeenskap met mekaar – die gemeenskap van geloof – nie. Daarsonder kom die opbou van ons geestelike huis (1 Pet. 2:5) tot onmiddellike stilstand.

As jy dink daar is regtig ‘niks’ wat jy van iemand anders in die gemeente nodig het nie … het jy al ooit gedink dat daar iemand anders is wat iets van jou mag nodig hê: ‘n vriendelike groet, ‘n woordjie van aanmoediging, ‘n rustige oor om te luister na wat in sy / haar lewe aangaan …?

Dit alles – en meer – kon elkeen beleef op hierdie kamp. Ek sal my met vertroue verlaat op die Here se wysheid as Hy sê: “… moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie …” (Heb. 10:25).

Dankie aan almal wat hierdie kamp besonders lekker gemaak het met hulle teenwoordigheid – maar eerste aan ons Here en God!

      Ds Paul Nel

Die man weet nie net van gewigstoot nie, maar hy weet ook van vuurmaak, veral as hy agt sakke hout het.